WINE HARVEST COMMEMORATIVE EVENT

Groot Geeste in die Wynbedryf Word Vereer

Die onlangse Wynoesherdenkingsgeleentheid was ‘n gepaste viering van die uitmuntende bydraes van vyf visioenêre figure wat die Suid-Afrikaanse wynbedryf op besonderse wyses beïnvloed. Met die verering vanjaar van dié vyf word die tradisie van erkenning van buitengewone leierskap voortgesit. Johann Krige het die 1659 Toekenning vir Visioenêre Leierskap ontvang, Praisy Dlamini is vereer in die kategorie vir die Bevordering van Inklusiwiteit, Bennie Howard in die kategorie vir Wynbevordering, Jan Booysen in die kategorie vir Wingerd- en Wynbou, en Marcus Lewis was die eerste persoon in die geskiedenis van die geleentheid wat vereer is in die Wynagriwerker-kategorie. Hierdie groot geeste is sprekende voorbeelde van die diverse talent in die wynbedryf.

Groot Constantia, Suid-Afrika se oudste produserende wynplaas, het weer die voorreg gehad om die jaarlikse viering aan te bied. “Die Wynoesherdenkings-geleentheid word ruim ondersteun deur ons premiumvennoot Standard Bank, saam met Groot Constantia, Air France-KLM, die Wes-Kaapse Departement van Landbou, South Africa Wine, Wesgro, Die Burger, Kaapstad Toerisme, MCC Label, en Seaborne Logistics. Dit is nie slegs ‘n geleentheid om individue te vereer nie, maar dit versterk ook bande binne die gemeenskap,” sê Jean Naudé, HUB van Groot Constantia, terwyl hy die plaas se lang verbintenis met hierdie trotse tradisie beklemtoon.

‘n Gees van eenheid en ‘n gemeenskaplike doel

“Suid-Afrikaanse wyn word wêreldwyd hoog aangeskryf en is ‘n ware ambassadeur vir die land se toerisme en gasvryheid,” meen Enver Duminy, HUB van Kaapstad Toerisme. “Dit is ‘n wonderlike geleentheid om ons wyndistrikte aan die wêreld bekend te stel, en meer internasionale besoekers te nooi om die unieke sjarme van ons wingerde te ontdek. Ons het ‘n bloeiende wyntoerismebedryf, en hierdie is ‘n geleentheid vir Suid-Afrika om op die wêreldverhoog uit te blink.”

Brendan Jacobs, Standard Bank se Hoof van Landbousake, deel hierdie sentiment: “Die wynbedryf kon nog altyd suksesvol aanpas en floreer onder veranderende omstandighede. Standard Bank is trots daarop om ‘n geleentheid te ondersteun wat erkenning verleen aan diegene agter die evolusie van die bedryf. Ons bly verbind tot die bemagtiging van die bedryf se toekomstige leiers, sowel as besighede in hierdie sektor soos wat hulle hul sake begin, bestuur en uitbrei.”

Wrenelle Stander, HUB van Wesgro, sê:“Die Wynoesherdenkingsgeleentheid bied ons ‘n platform om die uitmuntendheid van Suid-Afrikaanse wyn ten toon te stel. Hierdie bedryf is ‘n baie belangrike komponent van ons streeksekonomie, aangesien dit tot toerisme sowel as uitvoere bydra.”

Die 2025 Wynoesherdenkingsgeleentheid het ‘n splinternuwe kategorie by die hooggeagte lys van vereerdes toegevoeg, naamlik Wynagriwerker. “Die seën van die oes laat ‘n mens nederig,” meen dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse Minister van Landbou. “Dit was dus ‘n trotse oomblik toe die Wes-Kaapse Departement van Landbou vir Marcus Lewis as die intree-Wynagriwerker gekies het. Hierdie inisiatief vereer die onskatbare waarde van die bydraes van wingerd-, kelder- en plaaswerkers, wat instrumenteel is vir die sukses van Suid-Afrika se wynbedryf.”


Johann Krige en Marcus Lewis – Kanonkop

Marcus Lewis V&A

Die Wynagriwerker-kategorie vereer agriwerkers wie se passie en toewyding die kernrol wat hulle in die volhoubaarheid en groei van die SA wynbedryf speel, simboliseer.

V: Kan jy jou vernaamste oespligte by Kanonkop Wynlandgoed beskryf, asook hoe jy jou eweknieë in die bedryf inspireer?

A: Gedurende oestyd is my hoofverantwoordelikheid om die ontvangsproses van die druiwe te bestuur. Ek hou toesig oor alles, van die sortering van die kratte en om te verseker die regte kultivars kom die kelder binne, bystand met fermentasie, pars en oortap van wyn. Kwaliteit is ons topprioriteit, en ek verseker alle take voldoen aan ons hoë standaarde. Na die oes fokus ons op prosesse soos oorpomp en vatbestuur. Ek glo hierin: ‘Elke saad wat ‘n mens plant het die potensiaal vir ‘n oorvloedige oes’. Daarom, wanneer dit kom by die motivering van ander agriwerkers, hou ek daarvan om vir hulle geleenthede vir professionele ontwikkeling te skep, om konsekwent hulle harde werk te erken, en die kardinale rol wat hulle speel in kosvoorsiening aan gemeenskappe, uit te lig.

Johann Krige V&A

Die 1659 Toekenning vir Visioenêre Leierskap vereer ‘n individu wie se innoverende bydraes ‘n diepgaande en blywende impak op die bedryf het.

V: Hoe beïnvloed jou uitkyk van ‘terug na die toekoms’ jou leierskap in die Suid-Afrikaanse wynbedryf, en watter opwindende vernuwings sien jy vir die toekoms om te verseker dat Suid-Afrikaanse wyne, veral Kanonkop, voor op die wêreldverhoog bly?

A: Wanneer ‘n mens in ‘n lewenskragtige, jong, innoverende bedryf werk, is jy geneig om die verlede te vergeet. Dus, eerstens ontleed ek wat reeds werk voordat ek ‘nuwe innoverende’ idees inbring. Hierdie benadering is in lyn met my motto, ‘Moenie die wiel herontwerp nie’. As jy die bedryf goed ken, lê die antwoorde dikwels ‘binne die boks’. Wat die toekoms van die internasionale wynmark betref, is dit onmoontlik om voorspellings te maak vanweë talle korttermyn-veranderlikes. Dit is belangrik om op hoogte te bly van die jongste neigings en dit wat binne jou beheer is, goed te bestuur sonder enige impulsiewe reaksies. Op die ou einde is die eenvoudige antwoord om die beste kwaliteit teen ‘n bepaalde prys in ‘n mark wat altyd verander, te produseer.

Praisy Dlamini V&A

Die kategorie vir die Bevordering van Inklusiwiteit vereer persone wat ‘n inspirerende voorbeeld stel deur hindernisse te oorkom en die inklusiwiteit van die Suid-Afrikaanse wynbedryf te verbeter.

V: Watter strategieë is essensieel om inklusiwiteit in die wynbedryf te bevorder, en hoe het die Adama Wyne-beursskema ontvangers se lewens getransformeer en inklusiwiteit gekweek?

A: Ten einde inklusiwiteit te kweek, is die aanneming en aanvaarding van diversiteit op alle vlakke – van leierskap tot die verskaffersketting – onontbeerlik. Volgehoue mentorskap en stabiele, positiewe ondersteuning is uiters belangrik, want individue kom te staan voor uiteenlopende uitdagings, en intensionele mentorskap kan suksesvolle resultate in ‘n diverse omgewing tot gevolg hê. Die Adama Wyne-beursskema bied noodsaaklike finansiële bystand aan jong mense in ons gemeenskappe, wat hulle in staat stel om te studeer en loopbane te bou sonder finansiële laste.

Bennie Howard V&A

Die kategorie vir Wynbevordering verleen erkenning aan individue of instellings wat die beeld en verantwoordelike verbruik van wyn bevorder en terselfdertyd die Suid-Afrikaanse wynbedryf promulfeer.

V: Hoe het jou mentorskap opkomende wynmakers en die wêreld van wyn beïnvloed? Voorts, hoe het jy as internasionale kampvegter vir Suid-Afrika se wynerfenis opgetree?

A: Ek glo daarin om ‘n goeie voorbeeld te stel. My mentors het my geleer om in hulle voetspore te volg, en ek hoop jong wynmakers en verbruikers kan op soortgelyke wyse by my leer. Die filosofie van wyn as ‘n leefstyl is die hoofboodskap met die klem daarop hoe almal wyn met matigheid kan geniet. Ek was bevoorreg om vele platforms te hê om met mense oor wyn te kon praat. As ‘n ervare spreker en een van die eerste Kaapse Wynmeesters om in 1983 te kwalifiseer, het ek in wynproekringe beweeg, as gasspreker by talle geleenthede opgetree, en aan pers-, radio en televisieonderhoude deelgeneem.

Jan Booysen V&A

Die kategorie vir Wingerd- en Wynbou verleen erkenning aan diegene wat die wynmaakbedryf met nuwe idees en tegnologie wesentlik hervorm het, en so die Suid-Afrikaanse wynbedryf op betekenisvolle wyse bevoordeel het.

V: Vertel ons meer van jou baanbreker-navorsingsprojekte en die impak daarvan op die bedryf. Plus, watter omgewingsvriendelike metodes het jy gelei?

A: Ek het vir meer as vyf dekades betekenisvolle bydraes tot die wynbedryf gemaak deur navorsing op nuwe gebiede en die oordrag van tegnologie. My leierskap, veral in navorsing oor die wingerdrolblaarvirus, het ‘n blywende impak gehad. Die Suid-Afrikaanse wynbedryf baat steeds vandag by die rolblaarbeheerstrategie. Ek het ook ‘n sentrale rol gespeel in die ontwikkeling van die eerste langtermyn-strategiese visie vir die bedryf, bekend as Visie 2020, wat die waardeketting van terroir tot verbruiker optimaliseer. Hierdie visie bevorder die beste praktyke in wingerdbou en wynmaak, wat weer produktiwiteit en volhoubaarheid verbeter.

Deur erkenning te verleen aan hierdie merkwaardige individue en hulle bydraes, bring die Wynoesherdenkingsgeleentheid hulde aan die verlede en berei die weg vir ‘n belowende toekoms. Volg @sawineharvest op sosiale media en gebruik die hutsmerk #HappyBirthdaySAWine om deel te word van die vieringe. Ontdek meer oor hierdie besondere geleentheid en die 2025 ontvangers by www.sawineharvest.co.za.


Photo: Links na regs – Praisy Dlamini, Bennie Howard, Johann Krige, Jan Booysen, Marcus Lewis

Share This